GESTEELDE WATER IS SOET

Share on facebook
Share on whatsapp
Share on twitter
Share on email

Met die Prez en Mama Zuma wat onderling good copbad cop met die volk speel deur eers die verwagting van rook te skep, en dit dan net weer op te hef, raak die rooksage nou absurd. As ek nie van beter geweet het nie, sou ek gedink het dié twee is die burleske hoofkarakters in ’n swakgeskrewe klug. Maar nee; dis die realiteite van die dag.

“Loose,” sê hy, en ’n Peter Stuyvesant rol oor die counter.

Hy plak die muntstukke neer, neem die sigaret en steek dit aan met een van die Bic-lighters wat te koop staan op die drankwinkel se toonbank.

Hy stap tevrede by die deur uit. Die rookwalm agtervolg hom.

En of dit ’n loose of loose draw is, die verkoop van sigarette in al sy gedaantes is sinoniem met die Suid-Afrikaanse verbruikerskultuur.

Tot onlangs toe.

In ’n tuimeltrein van verwarrende en weersprekende uitsprake moes rokers kennis neem dat hulle geliefde plesiertjie – of verslawing – nou skielik verbode is. Drakonies, onregverdig en onwettig, noem regskenners dit. Fita (Fair Trade Independent Tobacco Association) het ondertussen begin met ’n hofstryd teen die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, se uitspraak dat daar weer ’n verbod op die koop en verkoop van tabakprodukte is. Batsa (British American Tobacco South Africa) het op Vrydag 1 Mei met ’n groot fanfare aangekondig dat hulle ’n dringende hofaansoek gaan bring, maar het die regsgeding op 6 Mei laat vaar en aangedui dat hulle nou samesprekings met die regering voer. Dít tot die teleurstelling van 11 miljoen rokers. Waarnemers in die media is dit egter eens dat die koronabevelsraad ongrondwetlik opgetree het.

’n Vlugtige tydlyn van Suid-Afrika se rokersdrama is soos volg: Op 23 April het president Cyril Ramaphosa aangekondig dat die koop en verkoop van sigarette onder vlak 4 se inperkingsmaatreëls gaan terugkom. Op 29 April kondig Nkosazana Dlamini-Zuma lynreg ’n ommekeer van dié regulasie aan, en word die nagmerrie waar: óf onttrekking, óf die swartmark staar rokers in die gesig. Op 4 Mei het Fita met ’n regsgeding teen Dlamini-Zuma se omstrede uitspraak begin – en nou wag rokers gretig op goeie nuus dat die verbod dalk op 26 Mei opgehef kan word. Daar is ook die moontlikheid dat ons dan sal aanbeweeg na vlak 3, maar op hierdie stadium is dit net spekulasie.

Desperate rokers het hulle na Facebook gewend en ruiltransaksies aangegaan waarin antieke stukke, juwele of skilderye vir kartonne sigarette verruil word.

Kom ons wees nou eerlik: Rokers is nice mense. Hulle is groothartig – wanneer ’n vreemdeling vra vir ’n sigaret, dan help ’n ander roker gewoonlik. “Het jy dalk vir my ’n light?” Dan leen jy jou lighter. Rook is die groot sosiale gelykmaker. Rokers wat buite staan en ’n dampie maak, bond dadelik ten spyte van sosiale of ekonomiese verskille. Rokers verstaan wat dit beteken om menslik op te tree. Ja, ek is ’n roker. En hoe mis ek dit nie om gemoedelike gemeenplase met ander rokers uit te ruil nie! Natuurlik staan die nierokers gereed met hulle ammunisie (wat as geykte retoriek in rokers se ore weerklink): Rook is sleg vir jou. Rokers stink. Ag sies man, kyk net die stompies. Dan die uitknikker: Die verbod op sigarette gee rokers nou die ideale geleentheid om op te hou rook. Kan jy nou meer – is dit ’n grap, hierdie wegneem van rokers se outonomie van handeling? Moes rokers op ’n wêreldwye pandemie wag om tot dié besluit te kom? Dan, helaas, die dubbelloophaelgeweer-argument: Rook maak jou meer vatbaar vir COVID-19 en belemmer jou kanse op genesing. Regtig? Bewys dit, asseblief. En só vra Fita ook.

Met die Prez en Mama Zuma wat onderling good copbad cop met die volk speel deur eers die verwagting van rook te skep, en dit dan net weer op te hef, raak die rooksage nou absurd. As ek nie van beter geweet het nie, sou ek gedink het dié twee is die burleske hoofkarakters in ’n swakgeskrewe klug. Maar nee; dis die realiteite van die dag.

Om ’n swartmark vir sigarette te vind het my nie lank geneem nie. ’n Facebook-kennis het gesnap ek is in die knyp en my gekontak met die besonderhede van ’n dealer in my omgewing. “Sy naam is Shaun, ’n Afrikaanse ou,” het hy bygevoeg. “Hy doen deliveries die hele Pretoria vol.” Ek was verheug. Ek het nie omgegee of my dealer ’n Somaliër, Chinees, Etiopiër, Nigeriër of Zimbabwiër is nie. Want na twee dae se onttrekking was ek desperaat.

Eers het ek al die ou tasse uit my kas gesmyt en deurgesnuffel met die hoop dat daar iewers ’n vergete pakkie is. Toe my jassakke, en toe al my ou handsakke, maar nee, nada. Mense spot en sê rokers sal enigiets rook in die afwesigheid van hulle geliefde ciggies – selfs sampioen, dagga, tee, of Disprin. Veral dagga.

Néé. Dit is ’n mite. ’n Roker is heilig oor sy brand; baie spesifiek waarvan hy hou, soos menthol-sigarette of nié. En ja, in die aangesig van onttrekking sal sommige rokers dalk (tydelik) settle vir ’n obskure Zimbabwiese substituut. Ek weet van geen rokers wat oorgeslaan het na dagga nie. Hulle lywe smag na nikotien, nie na papegaaislaai nie.

Ek het die dealer se naam op my foon gesave as die onwaarskynlike kontak, “Shaun Smokes”, en ’n WhatsApp gestuur: “Hallo, het jy stock?” Shaun se profielfoto was ’n skim.

Die skim het geswyg.

Ondertussen, in my soektog na daardie hartstogtelik verlore pakkie, spoor ek toe ’n pyp en sakkie tabak op wat iemand hier vergeet het.

Eers het ek geworstel om die pyp skoon te maak; ek het geen pypskoonmakers gehad nie, maar ywerig papierspelde reguit gewring en met handdoekpapier die pypsteel begin maneuvreer.

Gewapen met ’n boksie vuurhoutjie het ek uiteindelik die twak aan die brand geskraap, net om per ongeluk my kuif aan die brand te steek met ’n vlam wat uit die bloute uit boontoe spring. Ek kon die wegholvlam egter betyds doodklap – teen die prys van ’n brandwond aan my vinger. En skielik het ek verstaan waarom die idioom “om die pyp te rook” dui op ’n uitdaging.

Want pyprook is nie vir sissies nie.

Ure nadat die regering my gedwing het om op te hou rook, het ek ’n kwaai keelseer ontwikkel. Ek het dit herken as simptomaties van my onttrekking: Al my vorige pogings om op te hou, het so begin.

Nag een slaap ek sleg. Swoel, en baie rusteloos. Ek rol rond met die wete iets – of iemand? – spesiaal is weg. Dis waar: As jy ophou rook, dan ervaar jy dit soos die dood van ’n geliefde. Jy treur. Hóé diep die band tussen rokers en hulle sigarette is, sal nierokers nooit besef nie.

Ek staan ’n paar keer op met ’n onstuimige hartklop, stop die pyp en puff, al is dit net om die nikotien in my bloedstroom aan te vul dat ek nie te erg onttrek nie. My hande is leeg. Ek mis die vashou van die sigaret, die sigaret se wit, silindervormige lyf (raak ek die kluts nou kwyt?) – en kom tot die gevolgtrekking die verslawing het ook ’n ritualistiese komponent, die taktiele belewenis van rook. Maar my hande bly leeg en die pyp troos nie; dit is nie ’n substituut vir ’n sigaret nie.

Fotobron: Pixabay

Die volgende oggend klim ek net so terug in die bed, gatvol vir die grendelstaat met sy bisarre rookwette.

Ek herken die tekens van depressie.

Weer stuur ek ’n WhatsApp na my smokkelkontak, Shaun. Natuurlik is dit ’n skuilnaam; geen dealer gaan met sy ID op sy voorkop onwettige produkte staan en smous nie. Maar dit maak nie saak nie. Ek aanvaar dit so.

Ek stop my pyp en suig my wange hol aan ’n bitter vakuum in die pypsteel, net om later radeloos die pyp en twaksak in ’n laai te smyt en om te draai en te slaap.

Twee-uur die middag piep my foon. Dis Shaun. “Ek het stock ingekry,” lees ek die wonderwoorde. Plus foto’s van die beskikbare brands, almal gemerk in rooi: R500. Sharp, Pine, Legends, Voyager. En ek onthou die ander goedkoop handelsmerke: Embassy, Princeton, Royals. Waarom het goedkoop sigarette tog sulke koninklike name?

Ek reageer dadelik: “Twee kartonne, asb, vir delivery.” Ek besluit op Pine; wag in spanning op die antwoord. En skielik begryp ek iets van smokkelsindikate en gangs, die mafia … Jy het respek het vir jou dealer. Ja. Want dit is die persoon wat oor jou lot besluit. Die proses is ’n intuïtiewe een. Jy raak waaksaam. Sigarette is immers gedoem tot swartmarkprodukte, gedegradeer en gestigmatiseer tot smokkelware. En ek verstaan: Wag op jou dealer, hý neem die leiding. Moenie bel nie. Moenie vir hom voorskryf wat om te doen nie. Ek begryp ook iets van ’n junkie se lyding, van die gewag op ’n fix: “Uit stock uit. Wag nog.” Want ’n roker wat onttrek, het nou dieselfde status as ’n dwelmverslaafde.

Om ’n swartmarktransaksie te doen, leer jy baie van jouself. Toe Shaun later die dag vra dat ek my pin location moet aanstuur (halleluja!), handel ek instinktief. Ek gaan staan nonchalant onder ’n boom en wag; maak of ek doenig is met my selfoon, helder oordag, in die ope voor ’n kompleks in Faerie Glen.

Ek sou maklik in die skaduwees van die onderwêreld kon verdwyn, besef ek verras. Ek praat nie. Ek hou geheime. Ek trek nie aandag nie. Ek was nog nooit ’n goeie burokraat nie, maar het (ironies) ’n kraakskoon rekord. Geen skuld of swartlys teen my naam nie; geen kriminele rekord nie – nie eers ’n verkeersoortreding of kaartjie nie … en in ’n wilde sprong van die verbeelding hoor ek my advokaat sê: “Beskuldigde Bennett is in alle opsigte ’n voorbeeldige burger, iemand wat die landswette gehoorsaam.”

Klokslag op die afgesproke tyd hou Shaun se wit Honda voor die kompleks stil. My dealer lyk soos ’n Afrikaanse ou wat Saterdae sy six-pack koop en vir die Blou Bulle skree. Vrééslik gewoon. Hy maak die kattebak oop en haal die besending onder die noodwiel uit.

Ek glip die rol note uit my baadjiesak en hy vat dit; ry, sonder om te tel. Sy vrou in die passasiersitplek waai vriendelik vir my. Vrééslik gewoon.

Wat het nou net gebeur? wonder ek toe hulle toet en wegry. Het ek werklik ’n swartmarktransaksie gedoen? Sluikhandel. Die dryf van handel in verbode middels, oftewel System D. Die débrouillards. Die skaduwêreld van runners, middelmanne en agente waar elkeen slu ’n cut of share uit die deal bewimpel.

Kan dit wees?

Met die drankverbod in die VSA (1920–1933), die sogenaamde Prohibition, was die vervaardiging, verkoop, vervoer en in- en uitvoer van “bedwelmende dranke” verbode. Die taboemark. Dis ongelooflik om vandag te dink dat Amerika eenmaal sulke belaglike wetgewing gehad het. Maar dit het nie lank geduur nie of die onwettige stokery van alkohol en kroeë het soos paddastoele opgeskiet. Moordbendes en rampokkers was betrokke by die sluikhandel, en die beheer oor hulle onderskeie gebiede is met bloed beveg en betaal. Die berugte Al Capone se whiskeyagente het hierdie voggies vanuit Kanada en die Karibiese eilande gesmokkel, wat vir Capone $60 miljoen ’n jaar in die sak gebring het. Eers met die Groot Depressie van 1933 het die owerhede tot hulle sinne gekom en besef hulle verloor astronomiese bedrae aan belasting en werksgeleenthede, en is die wetgewing stelselmatig uitgefaseer.

Met die huidige tabakverbod verloor die Suid-Afrikaanse ekonomie R35 miljoen aan belasting ’n dag. Haas ongelooflik.

Fotobron: Canva

Dink ’n mens aan die swartmark, dink jy onwillekeurig aan gevaarlike wapens en dwelmmiddels. En snipers wat op die Dark Net rondsluip. Maar Twinkies? Ja, dááí onskuldige koekies. In 2012 het die vervaardigingsmaatskappy, Hostess Brands, opgehou om Twinkies te vervaardig en vir ’n jaar lank was hierdie koekies een van die gewildste produkte op die swartmark – tot Hostess die vervaardiging daarvan hervat het. En wie sou ooit kon raai dat amber sy gewig in goud werd is? Letterlik. Die grootste verkopers van amber kan in Kalingrad, Rusland gevind word, en stukke waarin insekte gefossileer is, bring lag-lag sessyferbedrae in. Ongeveer 350 tot 400 ton amber ’n jaar vind ’n afsetplek op die swartmark. Nóg ’n onwaarskynlike swartmarkitem is Manuka-heuning wat van die Manuka-bos is Nieu-Seeland en Australië bestuif word en wat na bewering oor helende eienskappe beskik. Of dit nou heuning, koek, sigarette of drank is, gesteelde water is soet, en brood in die geheim geëet, is lekker, sê die wyse Salomo mos.

In ’n sekere sin was die voltrekking van die rookverbod onafwendbaar. Dlamini-Zuma het reeds in die negentigerjare begin met haar kruisvaart teen rook deur stelselmatig die weg te baan vir nuwe rookregulasies, soos om nie in die openbaar te rook nie, of nie tabakprodukte te adverteer nie. Maar wie sou ooit kon geraai het dat die Wet op Rampbestuur die Minister twee dekades later soveel mag sou gee?

Op die oog af lyk dit bloot na ’n toksiese antagonisme teen rook. Maar iets is nie pluis nie – en dit is die sigaretsmokkelaar Adriano Mazzotti se verbintenis met Mama Zuma. Volgens fluistergerugte het hy haar presidensiële veldtog help befonds en was sy óók betrokke by die sluikhandel van sigarette. Ja, Mazzotti klink inderdaad soos iets uit ’n Godfather-film. En presies wié voordeel trek uit hierdie uitdyende swartmark vir sigarette, sal net die tyd ons leer.

Join our
Mailing List

* indicates required
/ ( mm / dd )